Anton & Lené Eloff

STORIE:


‘n Storie geskryf deur my ma, na ons “lockdown” troue. As hoërskool liefdes wat ook vir vier jaar ‘n langafstand verhouding gehad het, wou ons nie een dag ekstra wag om te trou na die president se aankondiging nie.

“Ek wil ‘n storie skryf oor ‘n troue – ‘n ‘lockdown’ troue. Die feite mag so hier en daar verskil van ander wat hierby betrokke was, maar vrek, om ‘n troue in 2 dae (eintlik 1.5) te reël, kan jou brein so bietjie aantas.
Dit begin by ‘n troudatum, 4 April 2020, wat ‘n jaar en of wat gelede vasgestel is. Die onthaalpkek is besoek in April 2019 sodat ons kon sien hoe dit daar lyk die tyd van die jaar, spesifiek die sonsondergang, want dit is wat hul wil hê vir agtergrond vir die foto’s.
Intussen word daar ook gesoek na die regte kerk wat intiem, mooi en naby die onthaalplek en natuurlik die aantrekplek is. Kwotasies vir hare en grimering, iemand om die plek mooi te maak, DJ en wat nie alles, word gekry en oor besluit. Spyskaarte word bespreek, wie of wat waar op watter tyd moet wees of gebeur, word bespreek en deurdink, want daar is nie ‘n ‘wedding planner/co-ordinator’ by hierdie storie betrokke nie.
En toe tref Corona ons. Getalle word tot 100 toe beperk – gelukkig val ons in die kategorie – en bly ons maar voortbeplan teen ‘n stadiger pas.
Die sussiekind is egter in die gesondheidsbedryf (sy werk by ‘n staatshospitaal) so ook ‘n klomp van hul vriende, en daarom besluit hulle, na baie trane en gesprekke, dat hulle nie te veel mense onbewustelik wil blootstel aan die virus, sou iemand dit dalk onder lede het sonder dat hul weet.
So verander die planne toe na net ‘n kerktroue, 4 April 2020, met net die gevolg en hulle aanhangsels, die fotograwe, oumas, naaste familie en darem die ma’s en pa’s ingesluit. 35 mense. Gelukkig is die kerk betaal en nog beskikbaar. Die tourok se makery is op koers en blomme sal ons sommer iewers gaan kry. Begin ook sommer iemand soek om dalk sommer vir ons ‘n skapie te braai, moet net plek kry om dit te doen.

Daar breek 23 Maart toe aan en ons sit almal gespanne en wag op oom Cyril se toespraak. Lockdown!!! Nou wat nou gemaak. Trane word gestort (weer ‘n keer – dit is darem nou al die 2de klap wat uitgedeel word), die tweetjies gaan konfereer bietjie in die kamer, kom terug en sê: ons trou Woensdag!! Maak nie saak waar of hoe, die lockdownding pak hulle nie alleen aan. Al die ratte in ons koppe (die wat nog werk) begin draai. Bel boetman se ouers om vinnig oor te kom sodat ons paar dingetjies kan bespreek, bel intussen vriendin om te hoor of ons dalk van haar pragtige huis en mooie tuin kan gebruik maak, bel die fotograwe en dominee om te hoor of hulle beskikbaar is net om te hoor dat hul almal so half gesit en wag het vir ons oproepe. Ook die dame wat die hare en grimering gedoen het.

Maar oeps, wat van die woonstel wat nog nie ingerig is nie??? Dinsdag oggend spring die 2 pa’s en boetman hier weg, begin meubels bymekaar maak, leen oral gordyne, gaan koop hier en daar goed aan. Sussiekind en ek moet halfdag werk en dan is dit vriendin gaan sien om te hoor hoe ons die hele ding in haar tuin kan opstel, trourok finaal pas, naels gaan doen en, en en……
Woensdag oggend weer werk toe vir ons twee, eetgoed reël vir die aand, trourok word 12:00 afgelewer, vriendin koop die mooiste blomme vir handruiker en sit dit sommer bymekaar.
En so slaan die klok 2 uur en die voorbereiding begin. Hare, grimering, kyk dat alles buite reg is, hou die trane in, hou die trane in, want die grimeerdame het my ook sommer beetgekry!
Begin aantrek want boetman gaan ‘n sekere tyd hier wees vir die ‘first look’, dan gaan hul sonsondergang foto’s neem en kan die seremonie 19:30 begin.
Wat ‘n aand was dit nie!! Met net 24 mense teenwoordig, boetman en sussiekind ingesluit. Die mees wonderlike, intiemste geleentheid ooit in Marnette en Kobus se tuin, vriend Francois en Liezl wat haar van babadae af ken, wat hulle trou. Ouma Pietie en Ouma Annatjie, die sussies en hulle mans en natuurlik die trotse ouers van albei. Ook die fotograwe en die vriend wat die lofprysing lei. Moet nie die belangrikste Gas vergeet: ons wonderbare Here!!
Groot troues? Nee wat, as oom Cyril agter jou met ‘n roer sit is enige iets moontlik en mooi en lekker en, en…
NS. Daar breek 4 April toe aan. Dit reën, dis koud met geen geleentheid vir sonsondergang foto’s.”

STEM VIR DIE PAARTJIE ONDER:


Stemme maak 7 Maart 2021 oop. Klik hier om opteteken om ‘n herinnering per e-pos te kry wanner stemme vir Troue van die Jaar 2020 oop maak.

Diensverskaffers:

  • Fotograaf: Megan and I
  • Grimering: MDW Professional Make-Up Artistry
  • Hare: MDW Professional Make-Up Artistry
  • Juweliersware: Lovisa
  • Trouring: Bruidegom: Beaudell
  • Skoene: Cotton On
  • Trourok: Ciska Barnard Couture
  • Videograaf: Megan and I