Heinrich & Liza van Wyk

STORIE:


Hierdie jaar het soveel onbekende faktore gehad vir elke bruid wat gedink het , hierdie jaar is haar jaar….

Voor die inperking alles omver gegooi het, was ons veronderstel om 25 Julie 2020 te trou. Dit sou egter nie kon gebeur nie en hier is my storie, ‘n storie van hoe twee families en vriende saam gewerk het om berge te versit, en uiteindelik op ‘n berg geeindig het.

Ek en Heinrich is trotse Suid Afrikaners wat noodgedwonge ons studies aan die universiteit van Mauritius moes gaan voortsit. Die universiteit het ons om 11uur die aand van die 21ste Maart 2020 laat weet hulle sluit agv die Corona virus en ons het 3 dae om die land te verlaat en terug te keer na ons geboorteland. Ons het toe op die eerste beskikbare vlug terug gekeer na Suid Afrika en ons inperkings tyd begin saam met Heinrich se ouers in Witrivier.
Ons trou reelings was reeds gefinaliseer en sou plaasvind op my ouers se plaas in die Overberg, my rok was reeds laat maak, videograaf, fotograaf musiek en die res reeds betaal. In April besluit ons toe om die troue uit te stel na 2021. Dit was egter nie ‘n maklike besluit nie aangesien ons reeds ons studente verblyf in Mauritius opgegee het en ‘n woonstel vir ons twee vasgemaak het siende dat ons getroud sou terugkeer. ‘n Ander probleem was, sou ons terugkeer na Mauritius ongetroud kon ons maklik op heel verskillende dele van die eiland ons twee weke kwarantyn deurbring. Dus was daar net een opsie, ons moes trou, en voor die landdros was uit. Die gesins predikant stem egter in om ons te trou en toe begin ons logistieke nagmerrie. My ouers sit in die Suidkaap en ons by my aanstaande skoonouers in Mpumalanga en die provinsiale grense is gesluit.

Die 8ste Junie 2020 kry ek die oproep wat ek gevrees het. Die universiteit laat weet ek moet die 1ste Julie begin om my MPhil/Phd projek wat stilstaan voort te sit. Minus twee weke kwarantyn beteken ek moet 17 Junie vlieg. In trane bel ek my ouers en se ek moet daardie naweek trou want ons moet die volgende week terug vlieg, en so begin die mees ongelooflike trou reelings.

Ons eerste probleem was, ons kon nie in ‘n kerk trou nie.

Almal wat van ons probleem gehoor het bied toe huise, tuine en lokale aan, maar aangesien ons net tien sou wees besluit ons toe om sommer op die berg te trou waar Heinrich my uitgevra het aangesien dit so spesiaal vir ons is. Dit is egter net ‘n 4*4 wat daar kan uit, gelukkig is ons Landcruiser mense.

Tweede probleem, ek het nie ‘n rok, skoene of ‘n ruiker nie , en Heinrich het nie ‘n pak of skoene nie.

Heinrich se ma het voorgevat en ‘n koepel gereel waaronder ons kon staan, haar vriendin het aangebied om ‘n ruiker te maak aangesien blomme moeilik bekombaar was. Heinrich se boetie het ‘n bord laat maak wat se welkom by die Funwyk troue. My tannie in Bloemfontein het solank lap gaan koop sodat my ma wat toe al oppad was vir my ‘n trou rok kon maak, aangesien my oorspronklike rok nog nie heeltemal klaar was nie. Heinrich kon gelukkig in sy pa se troupak trou met geringe verstellings.
Donderdag aand 7uur stap my ma toe in met rok material oor die arm. Vrydag word die rok klaar gemaak. Saterdag vaar ons die winkels in om materiaal te kry vir ‘n sluier en Saterdag aand toe is die ook klaar.

Sondagoggend 14 Junie het ek en my aanstaande aan teenoorgestelde kante van die huis klaar gemaak. Ek het my eie grimering en hare gedoen asook my ma sin. Sy het die laaste knopies vas gewerk terwyl ek in my rok staan.
My swaer Wiehan se vriend Matthew Uys het ons op video vasgele. Die selfde tyd het al die boeties die koepel en die stoele na die berg geneem en die koepel versier met pennygums en blomme uit my skoonma se tuin.
Half elf is ek toe saam met my ouers die berg uit waar die res reeds gewag het, Liesbet inkluis wat vir Heinrich help groot maak het, en die huil natuurlik die hardste.

Ons het my ma afgelaai by die gaste en om die graniet kop gery en so het ek aan die arm van my pa oor die bergkoppie gestap na die mooiste prentjie waarvoor enige bruid kan vra, my aanstaande die Dominie en ons twee gesinne.
Ek het nader gestap op Falling in love gesing deur Kina Grannis, in die mooiste rok waarvoor enige dogterjie kon vra, na my ridder op ‘n wit perd( nou toe nie ‘n wit perd nie ), maar ‘n grys granietkoppie, en op daardie koppie het ek toe ‘ja’ gese vir die 2de en laaste keer.

Heinrich & Liza van Wyk

STEM VIR DIE PAARTJIE ONDER:


Stemme maak 7 Maart 2021 oop. Klik hier om opteteken om ‘n herinnering per e-pos te kry wanner stemme vir Troue van die Jaar 2020 oop maak.

Diensverskaffers:

  • Fotograaf: Wiehan van Wyk
  • Huweliksbevestiger: Ds Jurgens de Jager
  • Juweliersware: Lovisa
  • Trouring: Juan Coetzer
  • Trourok: Monica Cloete
  • Videograaf: Matthew Uys
  • Huwelik kontrak: Andre Doman
  • Wittebrood plek: Thornybush River Lodge