Francois & Juandre Brill

STORIE:


‘n Spesiale dag met sy nagmerrie uitdagings maar steeds n mooi en lekker troue.

Ons het verloof geraak op 30 Mei 2020 en wou reeds die knoop deur haak op 20 Junie 2020, maar met die Covid-19 pandemie kon ons planne nie realiseer nie. Ons besluit toe op 15 Desember 2021 wat ons verhouding se herdenking was.

Ons het begin deur n venue te soek wat by ons datum sal kan inpas en daarna het die groot soek na ons verskaffers begin en het ons nie vele struikelblokke ervaar nie.

Van dag een af het ons geweet dat ons datum dalk n moeilike datum vir baie kan wees maar ons het vas geglo dat alles sal uitwerk. Ons het vele gaste begin sny om by die Covid-19 regulasies in te pas en later besluit om nie meer as 80 mense op die dag te onthaal nie. Ons het vreeslik gesukkel om n dominee in die hande te kry om ons te trou, want as hy/sy nog nie n ander troue op daardie dag gehad het nie, het hulle reeds vakansie planne gehad of het net eenvoudig nie teruggekom na ons toe nie. So kry ons toe op die einde van die dag n dominee al die pad vanaf Krugersdorp.

Na n lang gewag en gesoek kry ons uiteindelik n fotograaf, alles betaal en bespreek net om later uit te vind dat sy ons nie meer kan help nie omrede sy verhuis na Kaapstad. Let wel dat die fotograaf ons nie laatweet het nie, ons het opgevolg of alles nog reg is. So kry ons toe vir ons fotograaf nommer twee, bespreek haar en kry al ons dinge agter mekaar en volg weer drie weke voor die troue op met haar, nee sê sy vir ons, sy gaan nie meer die troue kan doen nie sy het familie verpligtinge wat sy moet na kom op daardie dag, maar sy stel toe darem n ander fotograaf voor. So kontak ons vir fotograaf nommer drie, wonderlike nuus, sy kan ons help vir n fotosessie op ons troudag, ons stem in en kry die bal aan die rol.

Die laaste betalings word gemaak, en die dae word afgetel na die groot dag. Ons hoop en bid net dat funksies nie weer gesny word en grense toe gemaak word nie, want ons gaste het van reg oor die land en wêreld gekom.

Alles verloop glad, Juandre vlieg af Oos-Kaap toe om haar trourok vir oulaas te gaan pas en te gaan haal by die bruidswinkel. So besluit die vroutjie van die winkel sy het n ander rok wat meer by Juandre pas en so verander die rok wat sy oorspronklik gehad het na n mooier en meer elegante rok. Verstellings moet daardie selfde dag nog gebeur, want Juandre moes die volgende dag weer terug vlieg Johannesburg toe om Maandag weer by die werk te wees.

Tussen deur die reëlings van die troue, beplan ons nog n trek, want die dag na die troue verhuis ons na die Noord-Kaap. Asof daardie stres nie erg genoeg was nie, word twee van ons hondjies uit ons erf gesteel twee weke uit mekaar uit. Ons het albei darem terug gekry, maar moes aanhou soek na die oudste een tot n dag voor die troue wat ons haar uiteindelik opgespoor het. Daardie selfde dag word die trek afgelaai by ons nuwe huis en Francois moet voet in die hoek sit om sy vlug te haal na Johannesburg. Juandre en die hoofstrooimeisie gaan haal die koek en die konfetti net om daar te kom en die konfetti nog nie gereed is nie, maar wag het hul eeder gewag al was die winkel alreeds besig om vir die dag te sluit.

Die dag van die troue is hier. Niemand kon vir Juandre inpas vir naels nie so toe gaan koop sy en haar hoofstrooimeise maar aanplak naels sodat dit darem net deftig lyk. Met die besef Juandre dat Francois se trouring tussen al die bokse met die trek beland het en dat die ring nou iewers in n boks in Douglas lê. So moet daar nog n ring gekoop word die oggend van die troue. Ons almal begin stadig maar seker beweeg na die venue waar ons gaan klaar maak. Met die uitpak van alles spring ons vinnig op die lyn en bel vir Francois om wit rose te gaan soek, want die koek het n stamp van n vinger gekry en ons moet dit probeer wegsteek.

Die laaste goed word reg gekry vir die troue en die gaste begin in die kapel inbeweeg. In tussen het die weer begin opsteek so alles wat buite was, moet na binne geskuif word en die perde skou vir die gaste is afgestel, maar ons stap rustig die kerk binne sodat die seremonie kan begin.

Na die seremonie besef ons dat ons fotograaf nooit opgedaag het en net niks laatweet het nie. Ons het almal wat by die troue was gevra om n hand by te sit met foto’s neem en die wat n kamera daar gehad het, moes fotograaf speel. Die fotosessie is verby, ons gaan nou die saal binnegaan. Die musiek begin speel en daar blaas ons platejoggie se “amp”. Die res van die aand moet jy mooi luister om die toesprake te hoor en die musiek speel sag maar daar is darem iets.

Ten spyte van al ons negatiewe gebeure was dit n lekker troue en sal ons dit enige tyd weer doen.

STEM VIR DIE PAARTJIE ONDER:


Stemme maak 7 Maart 2022 oop. Klik hier om opteteken om ‘n herinnering per e-pos te kry wanneer stemme vir Troue van die Jaar 2021 oop maak.

Diensverskaffers:

  • Blomme: Colosseum Reale Venue
  • Bruidegom-pak: Hemp en onderbaadjie – House of Chic, Das – Kieskeurige Bruidjie, Broek en kouse – Mr Price
  • Dekor: Colosseum Reale Venue
  • Fotograaf: Wildflower & Co Photography (sy het nie opgedaag nie), familie en vriende het foto’s geneem
  • Gaste Geskenke: Plantjies – selfgegroei, Houertjies – Newlands, Dankie Plakkers – Pitout
  • Grimering: Masquerade Studio
  • Hare: Masquerade Studio
  • Huweliksbevestiger: Ds Pieter Fourie
  • Juweliersware: Sterns
  • Trouring: Sterns
  • Troukoek: Mariska Vermaak
  • Koördineerder: Doreen Venter – Colosseum Reale Venue
  • Musiek: Willem Basson
  • Platejoggie: Willem Basson
  • Skoene: Bruidegom – Solomon’s, Bruid – Kingsmead
  • Trourok: House of Chic
  • Venue: Colosseum Reale Venue
  • Paartjie se verblyf: Colosseum Reale Venue
  • Huwelik kontrak: Stratlaw (Pty) Ltd