Monique & Brandon Reyneke

STORIE:


Ek en Brandon het op skool ontmoet. Ons het gou beste vriende geword en het in ons tweede jaar op universiteit ‘n paartjie geword. In Februarie 2019 het ek een aand op Instagram ʼn “post” deur Marion Rehwinkel gesien waar sy vir Valentynsdag ʼn promosie op ringe aangebied het. Ons het toe begin gesels oor spesifieke ringe en die planne het bymekaar begin kom.

Ek het gedink die verlowing sou in April of Junie 2019 plaasvind, maar die maande het verby gegaan en steeds was daar geen verlowing nie. Een Vrydagaand (4 Oktober 2019) na ʼn lang besige week, het Brandon gevra ons moet iets gaan eet by ons gunsteling plek – Piza e Vino op Stellenbosch. By die restaurant was Brandon baie senuweeagtig en hy wou nie eintlik iets eet nie. Min het ek geweet dis omdat hy senuweeagtig is. Ek het aangebied dat ons maar kon huis toe gaan, maar hy het daarop aangedring dat ons die aand saam geniet.

Na ete was Brandon ewe skielik vreeslik haastig om by die huis te kom. En hy was konstant op sy foon besig. Ek het hom nog geskel omdat hy op sy foon is terwyl hy bestuur. Met ons aankoms by die woonstel het hy ons voordeur vir my oopgesluit en toe ek instap was die hele woonstel mooi opgemaak. Daar was foto’s van ons mooiste herinneringe teen die muur geplak, ons liedjie (Timbuktu van Riana Nel) het in die agtergrond gespeel en daar was ʼn massiewe bos blomme op die TV kas. Ek het egter steeds nie besef dat die aand, dié aand kon wees nie. Brandon het my toe aangehits om my blomme te gaan kry en toe ek omdraai was hy op sy knieg. En ek het natuurlik “JA!” gesê.

Brandon het die verlowing soos ʼn absolute militêre operasie uitgevoer. Daar was kameras opgestel om alles op te neem en Frikkie (my boetie) en Alno (een van ons beste pêlle) het elk ʼn lêer met instruksies vir die verloop van die aand ontvang. Na ek ja gesê het, het Brandon hardop gesê “Sy het JA gesê!”. Alno en Frikkie het toe skielik uit die kamer verskyn en ons het sjampanje geskink. Dit was die perfekte aand!

Daar was nog ʼn hele paar van ons ander vriende by die proses betrokke wat my verloofring veilig tot by Brandon vervoer het van Pretoria af en wat met die aand se beplanning gehelp het. Vir elkeen wat ons aand spesiaal gemaak het is ons diep dankbaar.

Na die verlowing het ons dadelik die troue begin beplan en in Desember 2019 het ons die datum, 24 April 2021, vasgemaak. Ons het toe nog nie besef dat die wêreld tot stilstand sou kom as gevolg van die KOVID pandemie nie. Ons was egter geseënd met die beste diensverskaffers wat die jaar en ‘n half se beplanning baie maklik gemaak het. Ons het toe net voor die derde KOVID-19 vlaag ons mooiste dag gehad saam met al ons vriende en familie. Ons het sommer heel naweek troue gehou!

STEM VIR DIE PAARTJIE ONDER:


Stemme maak 7 Maart 2022 oop. Klik hier om opteteken om ‘n herinnering per e-pos te kry wanner stemme vir Troue van die Jaar 2021 oop maak.

Diensverskaffers:

    • Blomme: Carin Flowers and Decor
    • Bruidegom-pak: Woolworths
    • Dekor: Carin Flowers and Decor
    • Fotograaf: Coba Photography
    • Gaste Geskenke: MyBrew Stellenbosch
    • Grimering: Hairstyling, Makeup and Photography by Almari
    • Hare: Hairstyling, Makeup and Photography by Almari
    • Huweliksbevestiger: Pieta Wolfaardt van Vredelust Churchadventure
    • Juweliersware: Lovisa
    • Trouring: Marion Rehwinkel Jewellery
    • Troukoek: Vriendin van die paartjie – Marna Blomerus
    • Koördineerder: Danelle van De Uijlenes
    • Musiek: Southern Sound
    • Platejoggie: Southern Sound
    • Skoene: Blu Betty en Blu Bert
    • Skryfbehoeftes: Theonie Photography and Designs
    • Strooimeisie-rokke: Hoiden Bridesmaids
    • Trourok: Robyn Roberts Bridal
    • Venue: De Uijlenes Forest and Old Barn
    • Paartjie se verblyf: Little Barn Bridal Suite De Uijlenes en De Ja Vu Cottage in Sedgefield
    • Vervoer: Donkiekar van De Uijlenes
    • Videograaf: Guava Graphics/Productions
    • Huwelik kontrak: Kaminer Kriger Hoddinott Attorneys
    • Wittebrood plek: Sedgefield