STORIE:
Van kleins af het ek altyd gedroom van ’n troue op die plaas. Daar waar die son oor die mielielande sak, waar die lug oop en vry voel, en waar alles nog rustig en eg is. Toe ek en my man begin beplan het, was dit vir my vanselfsprekend dat ons tussen die mielies sou trou. Die land was vir ons meer as net ’n plek, dit was ’n simbool van groei, geduld en seën.
Daar was egter ’n klein uitdaging. Die plan was dat die mielies gestroop sou word om plek te maak vir die seremonie, maar weens die nat weer was dit nie moontlik nie. Die mielies was eenvoudig nog nie gereed nie, en ’n gedeelte moes uitgekap word om ruimte te maak. Ek onthou hoe almal saamgespan het om dit moontlik te maak. Familie, vriende en werkers het hande gevat om ons droom te bou.
Terselfdertyd was ons besig om ons huis op die dorp in te rig. Een van die dinge wat ek graag wou klaarkry, was die plaveisel voor die motorhuis. My pa het die plaveisel vir ons bestel, maar drie dae nadat dit afgelewer is, het ek gesien dit lê nog net daar. Ek kon dit nie verstaan nie, maar ek het niks gesê nie, want ek het geweet almal is besig op die plaas met die voorbereidings vir die troue.Eers later het ek agtergekom dat my pa die plaveisel vir die troue geleen het. Hy het dit tussen die mielies begin pak sodat die vroue nie met hul formele rokke in die stof hoef te loop nie. Dit het my diep geraak. Daardie eenvoudige, liefdevolle gebaar het presies gewys wie my pa is en hoe almal om ons gewerk het om hierdie dag volmaak te maak.My rok was alles waarvan ek ooit kon droom. Jolanche Couture het dit vir my gemaak en sy is eenvoudig fantasties. Sy het my droom laat waar word. Elke fyn steek, elke vou en elke detail het gevoel soos iets uit ’n sprokie. My man se Polo pak het perfek by die styl van die dag gepas. Tussen die mielies, met die sagte wind wat deur die blare fluister, het ons die Here se teenwoordigheid gevoel. Alles het so stil, heilig en vol liefde gevoel. Wat ek en Herman het is anders en ons troue getuig daarvan.
Diensverskaffers:
- Blomme: Country Flair
- Bruidegom-pak: Polo
- Dekor: Country flair
- Fotograaf: Mandy Stander
- Gaste Geskenke: Old School Illustration
- Grimering: Bella Tu
- Hare: Salon Renassaine
- Huurdienste: All party hire
- Huweliksbevestiger: Dr Pieter Van Jaarsveld
- Juweliersware: Daniel wellington
- Trouring: Elri Diamonds
- Troukoek: Lizel Els
- Koördineerder: Lucretia Scabbort
- Musiek: Dj Magpie
- Platejoggie: Dj Magpie
- Skoene: Aldo & Kingsley heath
- Skryfbehoeftes: Original Flair Design
- Strooimeisie-rokke: Lara Louise Designs
- Tente: –
- Trourok: Jolanche Couture
- Venue: Valentia Familie Plaas
- Paartjie se verblyf: Thompsons Guest House
- Vermaak: –
- Vervoer: –
- Videograaf: Bernard Fischer
- Huwelik kontrak: John Human
- Wittebrood plek: Maldives

